Rehabilitasie van Cliftonlaan Reservoir

(Urban Management, Jan./Feb. 2000)

Sinopsis

Die 14 Mℓ Cliftonlaan reservoir is geleë in ‘n dolomitiese gebied in Centurion naby Pretoria, Suid-Afrika. Die silindriese reservoir met ‘n koepeldak is in 1971 gebou. Die nagespanne muur van die reservoir gly op ‘n laer op die muurvoetstuk.

Gedurende Mei 1997 het die reservoir tekens van lekkasie begin toon. Die Groter Pretoria Metropolitaanse Raad (GPMR) het die verbande op voeë in die reservoir laat rehabiliteer, maar die  herstelwerk was onsuksesvol. Reeds tydens die eerste keer wat die reservoir na rehabilitasie opgevul is, het lekkasie aan die buitekant van die reservoir by die voeg tussen die muur en vloer plaasgevind. GPMR het toe ‘n raadgewende ingenieursfirma, BKS, aangestel om die probleem op te los. Erhard Kruger en Emuël Kok wat op daardie stadium in diens van BKS was, was verantwoordelik vir die ontwerp van die rehabilitasie van die reservoir. Erhard Kruger was verantwoordelik vir die strukturele herstelwerk en Emuël Kok vir die geotegniese rehabilitasie.

Suksesvolle rehabilitasie van die reservoir was afhanklik van ‘n akkurate diagnose van die probleem en bepaling van die geotegniese toestande. Monitorpunte is op die muurvoetstuk geïnstalleer en beweging by dié punte is oor ‘n tydperk van 18 maande gemoniteer. Die vloerblad is ook opgemeet. Geleidelike versakking van tot 196 mm het oor sowat 25% van die vloeroppervlak voorgekom. Krake het ook in die grondoppervlak om die reservoir ontstaan. Die versakking van die muurvoetstuk en vloer het veroorsaak dat die verband tussen die muur en vloer in dié gebied geskeur het. Uiteindelik het ‘n gaping van 250 mm onder die versakte vloer gevorm, wat die reservoir ondiensbaar gemaak het.

Dinamiese keëlpenetrasietoetse en boorgate binne en buite die reservoir is gebruik om die geotegniese toestande onder die reservoir te bepaal.

In ‘n artikel wat in Urban Management Volume 31 van Januarie/Februarie 2000 verskyn het beskryf Erhard Kruger en Emuël Kok die suksesvolle rehabilitasie van die reservoir. Kliek die skakel om die volledige artikel af te laai.

(Artikel is gelaai met die toestemming van die uitgewer, TE Trade Events; www.tetradeevents.com)