Oor ons

HGK Raadgewend BK het sy deure op 1 Maart 2006 geopen en is gestig deur Erhard Kruger, wat op daardie tydstip ses-en-twintig jaar ondervinding in struktuuringenieurswese gehad het. Na graduering het hy vir twee jaar as beurshouer by die destydse Departement van Openbare Werke gewerk.

In Februarie 1982 verlaat hy die DOW en begin by een van die grootste raadgewende ingenieursfirmas in Suid-Afrika werk. Na ‘n kort tydperk van ongeveer ses maande in die vervoerafdeling, gaan hy na die struktuurafdeling, waar hy waardevolle ondervinding in struktuurontwerp opdoen deur blootstelling aan ‘n verskeidenheid van uitdagende projekte.

Hy beskik oor spesialiskennis in die strukturele ontwerp van waterhoudende strukture en het ‘n 4 dag kursus in die ontwerp daarvan by die British Cement Association in die Verenigde Koninkryk bygewoon. Hy het verskeie reservoirs, strukture vir riool- en watersuiweringsaanlegte, ondergrondse pompstasies en druktorings ontwerp. Die ontwerp van die 6,5 Mℓ Grand Central Druktoring in Midrand, een van die grootste van sy soort in die wêreld, was ‘n hoogtepunt.

Hy was verantwoordelik vir die suksesvolle rehabilitasie van verskeie reservoirs, soos die Middelburg 10 Mℓ, Queenswood 18 Mℓ and Waterval 45 Mℓ reservoir.

Hy was lid van beide die Verwysings- en Werksgroep vir die ontwikkeling van ‘n Suid-Afrikaanse Nasionale Standaard vir Waterhoudende Strukture, SANS10100-3, en was spesifiek verantwoordelik vir die kraakwydte-gedeelte daarvan.

Hy het verskeie multi-verdieping geboue ontwerp waarvan die 18-verdieping toringblok van die Momentumsentrum in Pretoria die uitdagendste was. Hy het verskeie opvoedkundige geboue soos lesingsale, biblioteke, laboratoriums en kantoorblokke vir hoër opvoedkundige instellings ontwerp. Hy beskik ook ondervinding in die ontwerp van struktuurstaal, en het die struktuurstaal-raamwerk vir die Es’kia Mphahlele Registrasiegebou vir UNISA in Pretoria ontwerp.

Hy was betrokke by die ontwerp van brûe, sowel as duikers op openbare paaie en vir swaar mynvoertuie op Sishenmyn in die Noord-Kaap en Moatize steenkoolmyn in Mosambiek.

Hy het die strukturele ontwerp van die Suid-, Suidwes- en Noordwespawiljoen by Loftus Versfeld Rugbystadion in Pretoria gedoen, sowel as die opgradering van die staal ligmaste vir die 1995 Rugby Wêreldbeker. Hy was een van die vier ontwerpgenieurs van die Nelson Mandelabaai 2010 Veeldoelstadion in Port Elizabeth vir die 2010 Sokker Wêreldbeker, en was verantwoordelik vir die ontwerp van Vlak 2 tot 5 vloerblaaie, oplope en baksteendetails, sowel as vir skakeling met die struktuuringenieur verantwoordelik vir die voorlopige ontwerp. Hy was ook verantwoordelik vir ‘n betonrehabilitasieprojek by Loftus Versfeld Rugbystadion in Pretoria.

Hy het ondervinding in ingenieursbestuur van projekte en het as hoofagent opgetree vir die rehabilitasie van die 4-verdieping kantoorblok van die Vergoedingskommissaris in Pretoria. Hy het opgetree as onafhanklike ingenieur om die beplanningsfase van ‘n oond-herbouprojek by Nampak Wiegand Glasfabriek te bestuur. Hy is deur die kliënt versoek om die bestuur van die laaste ses maande van konstruksie van die UNISA Hoofingangsgebou as gevolg van stadige konstruksie en stadige vloei van inligting te behartig. Sy pligte het onder andere die implementering van prosesse om die vloei van inligting te verbeter, monitering van vordering en die lei van vorderingsvergaderings behels.

Hy was betrokke by verskeie struktuurondersoeke, en was ‘n spesialisgetuie in ‘n hofsaak na die swigting van ‘n markiestent by die jaarlikse Oktoberfest by die Duitse Skool in Pretoria waarin ‘n persoon verlam is, sowel as in ‘n hofsaak na die swigting van ‘n skuifhek waarin ‘n persoon beseer is.

Hy was die outeur van verskeie artikels soos hieronder aangedui, waarvan drie in die Britse tydskrif, The Structural Engineer, gepubliseer is.

Erhard Kruger is geregistreer as ‘n professionele ingenieur in Suid-Afrika sowel as in die Verenigde Koninkryk.

Kwalifikasies

Publikasies